Handelinge 10:30-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my.

31. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie!

32. Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’

33. So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.”

34. Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie.

35. In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is.

36. Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is.

37. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het.

38. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39. “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig,

40. maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn,

41. nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het.

42. Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Handelinge 10