Genesis 50:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Josef het toe gegaan en saam met hom al die amptenare van die farao, die raadgewers van sy paleis en al die senior beamptes van Egipte.

8. Josef het ook sy broers en Jakob se hele huishouding saamgeneem. Hulle kinders, kleinvee en grootvee het hulle egter in die Gosenstreek agtergelaat.

9. ’n Groot stoet van waens en perderuiters het Josef vergesel.

10. Toe hulle by die dorsvloer van Atad, oos van die Jordaan aankom, het hulle sewe dae lank daar oor hulle pa gerou en getreur.

11. Die plaaslike Kanaäniete het gesien hoe hulle rou en het die plek toe Abel-Misrajim genoem, want hulle het gesê: “Dit is ’n plek van swaar rou vir hierdie Egiptenaars.”

12. Jakob se seuns het dus gedoen soos hy hulle beveel het.

13. Hulle het sy liggaam Kanaän toe geneem en dit in die grot van Makpela neergelê. Dit is die grot wat Abraham as ’n permanente begraafplek gekoop het op die grond van Efron die Hetiet, naby Mamre.

14. Josef het saam met sy broers en almal wat hom na sy pa se begrafnis vergesel het, na Egipte toe teruggekeer.

15. Ná hulle pa se dood het Josef se broers bang geword. “Nou gaan Josef ons terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het,” het hulle gesê.

16. Daarom stuur hulle die volgende boodskap vir Josef: “Voordat jou pa gesterf het, het hy ons beveel

17. om vir jou te sê: ‘Vergewe jou broers tog vir die groot onreg wat hulle jou aangedoen het.’ Vergeef ons tog nou, want ons dien ook die God van jou pa.” Toe Josef hierdie boodskap kry, het hy in trane uitgebars.

18. Sy broers kom toe self en val voor hom neer. “Ons sal u slawe wees,” het hulle gesê.

19. Maar Josef sê vir hulle: “Moenie vir my bang wees nie. Ek is nie in God se skoene om julle te straf nie.

20. Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het deur my gesorg dat ’n groot volk oorleef.

Genesis 50