12. Jakob se seuns het dus gedoen soos hy hulle beveel het.
13. Hulle het sy liggaam Kanaän toe geneem en dit in die grot van Makpela neergelê. Dit is die grot wat Abraham as ’n permanente begraafplek gekoop het op die grond van Efron die Hetiet, naby Mamre.
14. Josef het saam met sy broers en almal wat hom na sy pa se begrafnis vergesel het, na Egipte toe teruggekeer.
15. Ná hulle pa se dood het Josef se broers bang geword. “Nou gaan Josef ons terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het,” het hulle gesê.
16. Daarom stuur hulle die volgende boodskap vir Josef: “Voordat jou pa gesterf het, het hy ons beveel
17. om vir jou te sê: ‘Vergewe jou broers tog vir die groot onreg wat hulle jou aangedoen het.’ Vergeef ons tog nou, want ons dien ook die God van jou pa.” Toe Josef hierdie boodskap kry, het hy in trane uitgebars.
18. Sy broers kom toe self en val voor hom neer. “Ons sal u slawe wees,” het hulle gesê.
19. Maar Josef sê vir hulle: “Moenie vir my bang wees nie. Ek is nie in God se skoene om julle te straf nie.
20. Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het deur my gesorg dat ’n groot volk oorleef.
21. Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.” Hy het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.
22. Josef en sy broers het in Egipte bly woon. Josef het 110 jaar oud geword.
23. Hy het nog drie geslagte van sy afstammelinge gesien, dié van sy seun Efraim en die kinders van Manasse se seun Makir, wat hy soos sy eie kind behandel het.