1. Toe die broers gereed was om te gaan, gee Josef bevel aan die bestuurder van sy huis: “Maak al die sakke vol met soveel graan moontlik en sit elke man se geld weer terug in sy sak.
2. My silwerbeker moet jy bo in die sak van die jongste een sit saam met die geld wat hy vir die graan betaal het.” Die bestuurder het net so gemaak soos Josef beveel het.
3. Teen dagbreek was die broers op en begin hulle die terugtog met hulle donkies.
4. Hulle was skaars buite die stad, toe sê Josef vir die bestuurder: “Jaag agter hulle aan en stop hulle. Vra hulle: ‘Hoekom het julle ’n goeie daad met kwaad vergeld?
5. Waarom het julle my meester se persoonlike silwerbeker gesteel waarmee hy die toekoms voorspel? Dis ’n slegte ding wat julle gedoen het!’”
6. Die bestuurder het hulle ingehaal en gemaak soos hy beveel is.
7. “Waarvan praat u, Meneer?” sê die broers. “Nie een van ons sal so iets aanvang nie.
8. Het ons dan nie die geld wat ons ’n vorige keer in ons sakke gekry het al die pad van Kanaän af weer teruggebring nie? Hoekom sou ons silwer of goud uit u meester se huis steel?
9. As u die beker by enigeen van ons kry, moet daardie een doodgemaak word en ons sal u meester se slawe word.”
10. “Dis goed so,” antwoord die bestuurder, “behalwe dat net die een wat dit gesteel het my slaaf sal wees. Die onskuldiges mag maar vry gaan.”
11. Hulle het gou die sakke van die donkies afgelaai en dit oopgemaak.
12. Hy het by die oudste se sak begin soek en so voortgegaan tot by die jongste. En daar kry hy toe die beker in Benjamin se sak!
13. Toe hulle dit sien, skeur hulle hulle klere in radeloosheid. Hulle laai weer hulle donkies en draai terug na die stad toe.
14. Josef was nog tuis toe Juda en sy broers daar aankom en op die grond voor hom neerval.
15. “Wat het julle aangevang?” vra Josef. “Het julle nie geweet dat ’n persoon soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?”
16. Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.”
17. “Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.”
18. Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao.
19. “Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het.
20. Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’