Genesis 43:21-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. het ons op pad huis toe vir die nag uitgespan. Toe ons ons sakke oopmaak, kry ons daar die presiese bedrag geld wat ons vir die graan betaal het. Hier is dit. Ons het dit teruggebring.

22. Ons het ook nog ander geld gebring om weer graan te koop. Maar ons het geen idee hoe die geld in ons sakke beland het nie.”

23. “Ontspan! Moenie julle daaroor bekommer nie,” sê die bestuurder vir hulle. “Julle God, die God van julle voorouers, moes dit teruggesit het. Ons het mos julle betaling gekry.” Toe het hy Simeon na hulle toe gebring.

24. Daarna het die bestuurder hulle in Josef se paleis ingevat en vir hulle water gegee om hulle voete te was. Hy het ook voer vir hulle donkies gegee.

25. Hulle het gehoor dat hulle die middag daar sou eet en het die geskenke gereed gekry om dit vir Josef te gee.

26. Toe Josef inkom, gee hulle hom die geskenke en buig laag voor hom.

27. Hy vra hoe dit met hulle gaan en voeg by: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle gepraat het? Lewe hy nog?”

28. “Ja,” antwoord hulle. “U dienaar, ons pa, leef nog en dit gaan goed met hom.” Hulle buig toe weer voor hom.

29. Toe hy opkyk, sien hy sy bloedbroer Benjamin raak. Hy vra toe: “Is dit julle jongste broer, die een van wie julle gepraat het? Mag God jou seën, my seun.”

30. Toe kon hy sy trane oor Benjamin nie meer bedwing nie en het haastig die vertrek verlaat. Hy het na ’n aparte vertrek gegaan om daar te gaan huil.

31. Nadat hy sy gesig gewas het, het hy teruggekom. Met sy emosies nou onder beheer, het hy beveel: “Bring die kos!”

32. Josef het eenkant gesit, sy broers by ’n ander tafel en die ander Egiptenaars ook apart. Egiptenaars het nie saam met Hebreërs geëet nie. Dit was vir hulle ’n skande.

Genesis 43