Genesis 43:11-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Uiteindelik het Jakob toegegee: “As dit nie anders kan nie, gaan dan maar. Julle moet julle sakke vol maak met die beste wat ons land het en neem vir die man ’n geskenk: ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels.

12. Neem dubbel die hoeveelheid geld, asook die geld wat in julle sakke gekry is. Dalk het iemand ’n fout gemaak.

13. Vat nou julle broer en gaan terug na die man toe.

14. Mag God Almagtig julle genadig wees wanneer julle by die man aankom en mag hy Simeon vrylaat en Benjamin terugstuur. As ek dan van kinders beroof moet word, moet ek maar beroof word.”

15. Die mans vat toe die geskenke, dubbel die hoeveelheid geld én vir Benjamin en gaan Egipte toe en meld hulle by Josef aan.

16. Toe Josef sien dat Benjamin by hulle is, sê hy vir die bestuurder van sy huishouding: “Vat die manne na my huis toe en berei ’n feesmaal voor sodat hulle middagete by my kan geniet.”

17. Die man het so gemaak en hulle na Josef se paleis toe geneem.

18. Toe hulle sien waarheen hulle geneem word, het hulle baie bang geword. “Dis oor die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggesit is,” sê hulle. “Hy wil ons oorweldig, ons sy slawe maak en ons donkies vat.”

19. Toe die broers by die ingang na die paleis kom, gaan hulle na die bestuurder van Josef se huishouding.

20. Hulle sê vir hom: “Meneer, toe ons laas keer Egipte toe gekom het,

21. het ons op pad huis toe vir die nag uitgespan. Toe ons ons sakke oopmaak, kry ons daar die presiese bedrag geld wat ons vir die graan betaal het. Hier is dit. Ons het dit teruggebring.

22. Ons het ook nog ander geld gebring om weer graan te koop. Maar ons het geen idee hoe die geld in ons sakke beland het nie.”

23. “Ontspan! Moenie julle daaroor bekommer nie,” sê die bestuurder vir hulle. “Julle God, die God van julle voorouers, moes dit teruggesit het. Ons het mos julle betaling gekry.” Toe het hy Simeon na hulle toe gebring.

24. Daarna het die bestuurder hulle in Josef se paleis ingevat en vir hulle water gegee om hulle voete te was. Hy het ook voer vir hulle donkies gegee.

25. Hulle het gehoor dat hulle die middag daar sou eet en het die geskenke gereed gekry om dit vir Josef te gee.

26. Toe Josef inkom, gee hulle hom die geskenke en buig laag voor hom.

27. Hy vra hoe dit met hulle gaan en voeg by: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle gepraat het? Lewe hy nog?”

28. “Ja,” antwoord hulle. “U dienaar, ons pa, leef nog en dit gaan goed met hom.” Hulle buig toe weer voor hom.

Genesis 43