Genesis 4:8-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Kain het met sy broer Abel gepraat en terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgeslaan.

9. Daarna vra die Here vir Kain: “Waar is Abel jou broer?”“Ek weet nie!” is sy skerp antwoord. “Ek is mos nie sy oppasser nie!”

10. Maar die Here sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang? Die bloed van jou broer roep na My daar waar dit op die grond geval het!

11. Daarom word jy verban van die grond wat jou broer se bloed uit jou hand ontvang het.

12. Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”

13. Kain antwoord die Here: “My straf is te groot om te dra!

14. U het my verban van my grond af en uit u teenwoordigheid. U het my ’n swerwende vlugteling op aarde gemaak. Elkeen wat my teëkom, sal my wil doodmaak!”

15. Die Here antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie, want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die Here God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie.

Genesis 4