Genesis 4:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Toe oestyd aanbreek, het Kain uit die opbrengs van sy landerye ’n offer vir die Here gebring.

4. Abel het die beste uit sy lammers, die eerstelinge van die seisoen, en van hulle vet as offer gebring. Die Here het Abel en sy offer aanvaar,

5. maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig.

6. “Hoekom is jy so kwaad?” vra die Here vir hom. “Hoekom hang jou gesig so?

7. Is daar nie aanvaarding vir jou as jy reg optree nie? Maar as jy weier om reg te doen, moet jy oppas! Sonde hurk by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.”

8. Kain het met sy broer Abel gepraat en terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgeslaan.

9. Daarna vra die Here vir Kain: “Waar is Abel jou broer?”“Ek weet nie!” is sy skerp antwoord. “Ek is mos nie sy oppasser nie!”

10. Maar die Here sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang? Die bloed van jou broer roep na My daar waar dit op die grond geval het!

11. Daarom word jy verban van die grond wat jou broer se bloed uit jou hand ontvang het.

12. Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”

13. Kain antwoord die Here: “My straf is te groot om te dra!

Genesis 4