Genesis 34:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op ’n dag het Dina, Jakob se dogter by Lea, by die jong vroue van die omgewing gaan kuier.

2. Maar toe Sigem haar sien, het hy haar gegryp en haar verkrag. Sigem was die seun van Gamor, heerser van die gebied en ’n Hewiet.

3. Hy het haar egter begin liefkry en haar toegeneentheid probeer wen.

4. Hy praat toe met sy pa daaroor. “Kry tog hierdie meisie vir my,” vra hy, “want ek wil met haar trou.”

5. Jakob het gehoor dat sy dogter verkrag is. Sy seuns was nog in die veld by die vee. Hy doen toe niks aan die saak voordat hulle teruggekom het nie.

6. Intussen het Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gekom om die saak te bespreek.

7. Hy kom toe daar aan net toe Jakob se seuns uit die veld aankom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was hulle geskok en woedend. Dit was ’n skandelike ding in Israel dat Sigem gemeenskap met Jakob se dogter gehad het! Dis iets wat nooit moes gebeur het nie.

8. Gamor verduidelik toe vir Jakob en sy seuns: “My seun Sigem is regtig verlief op julle dogter. Gee asseblief toestemming dat hy met haar trou!

9. Ondertrou met ons: Laat julle dogters met ons seuns trou, en ons sal ons dogters toelaat om met julle seuns te trou.

10. Julle kan dan tussen ons woon. Die land is oop vir julle. Vestig julle hier en dryf met ons handel. Julle is ook welkom om eiendom tussen ons te bekom.”

11. Sigem praat toe self met Dina se pa en broers. Hy sê: “Aanvaar my tog. Ek sal gee wat julle ook al vra.

12. Maak nie saak wat die bruidsprys of geskenk is wat julle vra nie, ek sal dit betaal. Ek wil die meisie net baie graag as vrou hê.”

Genesis 34