38. “Twintig jaar lank was ek by Pa en al die tyd het ek u skape en bokke opgepas sodat hulle gereeld gelam het. In al die jare het ek nie één van u ramme vir my gevat om te eet nie.
39. Ek het nooit die kleinvee wat deur wilde diere verskeur is na u toe gebring nie. Ek moes dit self vervang. Pa het my laat betaal vir elke dier wat gesteel is, of dit nou my skuld was of nie.
40. Deur skroeiende hitte in die dag en ysige slaaplose nagte het ek vir u gewerk.
41. Vir twintig jaar het ek u gedien, veertien jaar daarvan vir Pa se twee dogters en ses jaar om my eie kudde op te bou. Maar Pa het my vergoeding tien keer verander!
42. Trouens, was dit nie vir die genade van die God van my voorouers nie, die God van Abraham en die Beskermer van Isak nie, sou Pa my sonder vergoeding weggestuur het. Maar God het my swoeg en swaarkry raakgesien. Dis hoekom Hy aan Pa verskyn het en in my guns uitspraak gegee het.”
43. Laban antwoord toe vir Jakob: “Hierdie vroue is my dogters, en hierdie kinders is my kleinkinders, en hierdie vee wat jy het, alles wat jy sien, kom van my af. Waarom sou ek dan my eie dogters en kleinkinders kwaad aandoen?
44. Kom ons, ek en jy, sluit eerder ’n ooreenkoms en laat dit ’n getuienis wees tussen my en jou.”
45. Toe vat Jakob ’n klip en sit dit regop as ’n gedenkteken.
46. Hy het ook vir die mense by hom gesê om klippe bymekaar te maak en op ’n hoop te stapel. Hulle het toe langs die hoop gaan sit en saam geëet.
47. Hulle het dit die “Kliphoop van Getuienis” genoem, in Laban se taal Jegar-Sahaduta en in Jakob se taal Galed.
48. “Hierdie kliphoop sal dien as getuienis van ons ooreenkoms,” het Laban verklaar.
49. Die plek is ook Mispa genoem, want Laban het gesê: “Die Here sal waghou oor my en jou wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.
50. As jy my dogters sleg behandel of as jy ander vroue neem, selfs as daar niemand anders by ons is nie – onthou, God is ’n getuie tussen my en jou.
51. Kyk na hierdie hoop klippe en hierdie klippilaar wat ek opgerig het.
52. Dit staan as getuies tussen ons. Ek sal nie hier verbygaan om teen jou uit te trek nie, en jy mag nie hier verbykom om my te kom aanval nie.
53. Die God van ons voorouers, die God van jou oupa Abraham en die God van my oupa Nahor, sal as regter tussen ons optree as enigeen van ons die ander een kwaad wil aandoen.” Jakob het toe ’n eed afgelê by die Beskermer van sy pa, Isak, dat hy die grens sou eerbiedig.
54. Toe het Jakob ’n offer vir God gebring en almal genooi om deel te neem aan ’n fees. Na hulle geëet het, het hulle daar in die heuwels oornag.
55. Laban het die volgende oggend vroeg opgestaan, sy kleinseuns en sy dogters met ’n seënwens gegroet, en teruggegaan huis toe.