Genesis 31:13-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Ek is die God wat jy ontmoet het by Bet-El, die plek waar jy die olie op die klippilaar uitgegooi het en ’n eed geneem het dat jy My sal dien. Maak klaar om hierdie land te verlaat en na jou geboorteland toe terug te gaan.’”

14. Ragel en Lea sê toe: “Ons stem saam! Hier is niks meer vir ons oor nie en ons sal niks van ons pa se rykdom erf nie.

15. Hy het ons voorregte verminder tot dié van vreemdelinge. Hy het ons verkoop, en die geld opgebruik.

16. Dit wat God van hom af weggevat en vir jou gegee het, is wetlik ons en ons kinders s’n. Doen gerus alles wat God vir jou gesê het.”

17. Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai.

18. Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan.

19. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Ragel steel toe haar pa se afgodsbeeldjies en neem dit saam met haar.

20. Hulle het in die geheim vertrek en nie vir Laban gesê dat hulle sou gaan nie.

21. Jakob het al sy besittings saam met hom geneem en die Eufraatrivier oorgesteek op pad na die heuwels van Gilead.

22. Laban het eers drie dae later gehoor dat Jakob gevlug het.

23. Hy het ’n klomp manne van sy familie bymekaargeroep en Jakob agternagesit. Sewe dae later het hy Jakob-hulle tussen die heuwels van Gilead ingehaal.

24. Gedurende die nag het God egter in ’n droom aan Laban die Arameër verskyn en vir hom gesê: “Pas op wat jy vir Jakob sê!”

Genesis 31