Genesis 30:36-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. Hy het hulle wég van Jakob af verskuif, drie dae se trek ver. Jakob self het agtergebly en Laban se vee opgepas.

37. Jakob het toe vars lote van populiere, amandels en plataanbome geneem en stroke van die bas afgetrek sodat daar wit strepe daarop was.

38. Toe sit hy die lote wat hy afgestroop het in die waterbakke waar Laban se vee kom drink het. Wanneer die ooie op hitte was en hulle kom drink, is hulle voor die lote gedek.

39. Wanneer hulle voor die wit-gestreepte lote gedek is, was al hulle lammers gestreep, bont en gevlek.

40. Jakob het hierdie lammers uit Laban se kuddes uitgekeer. Wanneer die ander op hitte was, het hy hulle gedraai sodat die kuddes die gestreepte en swart ramme in Laban se kudde sien. Op hierdie manier het hy sy eie kudde uit Laban s’n opgebou.

41. Wanneer die sterker ooie op hitte was, het Jakob die gestroopte lote voor hulle neergesit.

42. Hy het dit egter nie met die swakker ooie gedoen nie. Die swakker lammers het dus aan Laban behoort en die sterker lammers aan Jakob.

43. As gevolg hiervan het Jakob se kuddes vinnig vermeerder. Hy het al ryker geword, met baie slawe, kamele en donkies.

Genesis 30