Genesis 24:46-55 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

46. Sy het dadelik die kruik van haar skouer laat afsak sodat ek kon drink en gesê: ‘Sekerlik, Meneer, en ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Dit het sy gedoen.

47. “Toe ek haar vra wie se dogter sy is, het sy gesê: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en sy vrou Milka.’ Dis toe dat ek haar die neusring en armbande gegee het.

48. “Ek het gebuig en die Here aanbid. Ek het die Here, die God van my meester Abraham, geloof omdat Hy my op die regte pad gelei het sodat ek ’n vrou uit die familie van my meester se bloedverwante kon kry.

49. Nou wil ek graag weet: Sal julle lojaal en getrou wees aan my meester, of nie? Sê vir my ja of nee sodat ek kan weet wat my te doen staan.”

50. Laban en Betuel het geantwoord: “Dit kom van die Here af. Wat kan ons dan sê?

51. Hier is Rebekka. Neem haar en gaan. Ja, laat sy die vrou word van jou meester se seun soos die Here bepaal het.”

52. Toe hy dit hoor, het Abraham se slaaf laag afgebuig en die Here aanbid.

53. Toe haal hy silwer en goue voorwerpe uit, asook klere, en gee dit vir Rebekka. Vir haar broer en haar ma het hy duur geskenke gegee.

54. Toe eers het die slaaf en die mense saam met hom aandete geëet en daar oorgebly. Vroeg die volgende oggend sê hy: “Stuur my terug na my meester toe.”

55. “Maar ons wil hê Rebekka moet nog tien dae hier by ons bly, dan kan sy gaan,” sê haar broer en ma.

Genesis 24