Genesis 24:14-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Ek sal vir een van hulle water vra om te drink. As sy sê ‘sekerlik, en ek sal sommer ook vir jou kamele water gee om te drink’ – laat dit die een wees wat U gekies het as vrou vir Isak. Dit sal ’n bevestiging wees van u troue liefde teenoor my meester.”

15. Hy was nog besig om te bid toe ’n meisie met die naam Rebekka daar aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Haar pa se naam was Betuel, die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka.

16. Rebekka was ’n besonder mooi meisie en het nog nooit by ’n man geslaap nie. Sy gaan af na die water toe, maak haar kruik vol en kom weer boontoe.

17. Die slaaf hardloop oor na haar toe en vra: “Gee asseblief vir my water om te drink.”

18. “Sekerlik, Meneer, drink gerus,” antwoord sy terwyl sy dadelik die kruik laat sak.

19. Toe hy klaar gedrink het, sê sy vir hom: “Ek sal sommer ook vir u kamele water skep totdat hulle genoeg gehad het!”

20. Sy maak toe gou haar kruik leeg in die drinkbak en gaan vinnig af na die water toe. Sy het aangehou om water vir die kamele aan te dra totdat almal genoeg gedrink het.

21. Die slaaf het haar in stilte dopgehou en gewonder of dit werklik die een is wat die Here beskik het dat hy moes teëkom.

22. Toe die kamele klaar gedrink het, gee hy haar ’n goue ring van ’n halwe sikkel vir haar neus en twee armbande van tien sikkels goud.

23. “Wie se dogter is jy?” vra hy. “Het jou pa dalk plek waar ons vannag kan slaap?”

24. “My pa se naam is Betuel,” antwoord sy. “My oupa en ouma is Nahor en Milka.

25. En ja, ons het genoeg strooi en voer vir die diere, en ook slaapplek.”

Genesis 24