Genesis 21:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Sara het gejuig: “God het my laat lag van vreugde! Almal wat dit hoor, sal saam met my lag.

7. Wie sou ooit vir Abraham sê: Sara sal seuns borsvoed? Tog het ek op sy oudag vir Abraham ’n seun gegee!”

8. Isak het groter geword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gereël om die geleentheid te vier.

9. Maar toe Sara opmerk hoe die seun van Abraham en Hagar vir Isak staan en lag,

10. het sy by Abraham aangedring: “Raak ontslae van die slavin en haar seun! Ek sal nie toelaat dat hy, die seun van ’n slavin, die erfporsie met my seun, Isak, deel nie!”

11. Dit het Abraham hewig ontstel, want Ismael was tog ook sy seun.

12. Maar God sê vir Abraham: “Moenie oor die seun en jou slavin ontsteld word nie. Doen soos Sara vra, want uit Isak sal jou nageslag voortgesit word.

13. Ek sal egter ook die nageslag van Hagar se seun tot ’n groot nasie maak, want hy is jou seun.”

14. Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het padkos voorberei en ’n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal.

15. Toe die water op was, het sy die seun in die koelte van ’n bos gelos.

16. Sy self het ’n entjie daarvandaan gaan sit, so ver as wat ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet. “Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,” het sy in trane gesê.

17. Maar God het die seun hoor huil. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: “Hagar, wat is verkeerd? Moenie bang wees nie! God het die seun gehoor huil daar waar hy onder die bos lê.

Genesis 21