Genesis 21:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het vir Sara gesorg en sy belofte aan haar nagekom.

2. Sara het swanger geword en vir Abraham in sy ouderdom ’n seun gegee. Dit het gebeur op die bestemde tyd soos God beloof het.

3. Abraham het sy seun Isak genoem.

4. Agt dae ná Isak se geboorte het Abraham hom besny soos God hom beveel het.

5. Abraham was toe 100 jaar oud.

6. Sara het gejuig: “God het my laat lag van vreugde! Almal wat dit hoor, sal saam met my lag.

7. Wie sou ooit vir Abraham sê: Sara sal seuns borsvoed? Tog het ek op sy oudag vir Abraham ’n seun gegee!”

8. Isak het groter geword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gereël om die geleentheid te vier.

9. Maar toe Sara opmerk hoe die seun van Abraham en Hagar vir Isak staan en lag,

10. het sy by Abraham aangedring: “Raak ontslae van die slavin en haar seun! Ek sal nie toelaat dat hy, die seun van ’n slavin, die erfporsie met my seun, Isak, deel nie!”

11. Dit het Abraham hewig ontstel, want Ismael was tog ook sy seun.

12. Maar God sê vir Abraham: “Moenie oor die seun en jou slavin ontsteld word nie. Doen soos Sara vra, want uit Isak sal jou nageslag voortgesit word.

13. Ek sal egter ook die nageslag van Hagar se seun tot ’n groot nasie maak, want hy is jou seun.”

14. Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het padkos voorberei en ’n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal.

15. Toe die water op was, het sy die seun in die koelte van ’n bos gelos.

16. Sy self het ’n entjie daarvandaan gaan sit, so ver as wat ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet. “Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,” het sy in trane gesê.

Genesis 21