15. “Nee, ek het nie gelag nie!” antwoord sy, want sy was bang. Maar Hy sê: “Dit is nie waar nie. Jy hét gelag.”
16. Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien.
17. “Ek kan tog nie my voorneme vir Abraham wegsteek nie!” sê die Here.
18. “Abraham sal sekerlik ’n groot en magtige nasie word, en al die volke op aarde sal in hom geseën word.
19. Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om aan die Here gehoorsaam te wees deur te doen wat goed en reg is sodat Ek vir hom alles kan doen wat Ek hom belowe het.”
20. Toe sê die Here vir Abraham: “Die boosheid van die mense van Sodom en Gomorra het rugbaar geword, want hulle doen alles wat sondig is.
21. Ek wil afgaan om te gaan kyk of dit waar is of nie. Dan sal Ek vir seker weet.”
22. Terwyl twee van die mans toe verder gaan in die rigting van Sodom, het die Here nog ’n rukkie by Abraham bly staan.
23. Abraham het nadergekom en gevra: “Sal U die onskuldiges saam met die skuldiges uitroei?
24. Sê nou daar is 50 onskuldige mense in die stad. Sal U nie die stad ter wille van hulle spaar nie?
25. U sal tog sekerlik nie die onskuldiges saam met die skuldiges laat doodgaan nie! Hoekom sou U die onskuldiges en die skuldiges almal oor een kam skeer? U sal dit tog sekerlik nie doen nie! Moet die regter van die hele aarde dan nie doen wat reg is nie?”
26. Die Here antwoord: “As Ek 50 onskuldige mense in Sodom kry, sal Ek ter wille van hulle die hele stad spaar.”
27. Abraham het toe weer gepraat: “Aangesien ek gewaag het om met die Here te praat, al is ek maar net stof en as, laat my toe om weer te praat.
28. Sê nou daar is 45? Sal U die stad verwoes net omdat daar vyf minder is?”Die Here antwoord hom: “As Ek 45 kry, sal Ek dit nie verwoes nie.”