Genesis 14:5-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. ’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote hulle aangeval. Hulle het die Refaïete verslaan in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte

6. en die Goriete in die Seïrberge tot so ver as El-Paran, kort by die woestyn.

7. Daar het hulle omgedraai na En-Mispat (dit is Kades) en het die gebied van die Amalekiete verower, asook dié van die Amoriete wat in Gaseson-Tamar gewoon het.

8. Teen hierdie tyd het die leër van die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) in die Siddimvlakte gereedgemaak vir oorlog

9. teen koning Kedorlaomer van Elam, en die konings van Gojim, Sinar en Ellasar – dit is vyf konings teen vier.

10. Die vallei was egter vol asfaltgate. Toe die leër van Sodom en Gomorra vlug, het sommige in die gate geval en die ander het na die berge toe gevlug.

11. Die seëvierende invallers het Sodom en Gomorra geplunder. Daarna het hulle al die besittings en kos in die stede gevat en saamgeneem huis toe.

12. Hulle het ook Lot, Abram se neef wat toe in Sodom gewoon het, gevange geneem en al sy besittings saamgeneem.

13. Iemand wat ontsnap het, het dit vir Abram die Hebreër kom vertel. Abram het by die groot bome van Mamre die Amoriet gewoon. Mamre en sy bloedverwante Eskol en Aner was bondgenote van Abram.

Genesis 14