Genesis 14:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Omtrent hierdie tyd het daar oorlog in die omgewing uitgebreek. Koning Amrafel van Sinar, koning Arjok van Ellasar, koning Kedorlaomer van Elam en koning Tidal van Gojim

2. het opgetrek teen koning Bera van Sodom, koning Birsa van Gomorra, koning Sinab van Adma, koning Semeber van Sebojim en die koning van Bela (dit is Soar).

3. Die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela het ’n bondgenootskap gesluit en hulle leërs in die Siddimvlakte (dit is die vallei van die Dooie See), saamgetrek.

4. Twaalf jaar lank was hulle onderdanig aan Kedorlaomer, maar in die dertiende jaar het hulle in opstand gekom.

5. ’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote hulle aangeval. Hulle het die Refaïete verslaan in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte

6. en die Goriete in die Seïrberge tot so ver as El-Paran, kort by die woestyn.

7. Daar het hulle omgedraai na En-Mispat (dit is Kades) en het die gebied van die Amalekiete verower, asook dié van die Amoriete wat in Gaseson-Tamar gewoon het.

8. Teen hierdie tyd het die leër van die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) in die Siddimvlakte gereedgemaak vir oorlog

9. teen koning Kedorlaomer van Elam, en die konings van Gojim, Sinar en Ellasar – dit is vyf konings teen vier.

10. Die vallei was egter vol asfaltgate. Toe die leër van Sodom en Gomorra vlug, het sommige in die gate geval en die ander het na die berge toe gevlug.

Genesis 14