10. God noem toe die droë grond “land” en die versameling water noem Hy “see”. Ook dit was vir God goed.
11. Toe beveel God: “Laat plante uit die grond voortspruit wat saad dra en ook vrugtebome wat vrugte gee.” En dit het gebeur.
12. Die aarde het toe sulke plante voortgebring, asook vrugtebome van allerlei soorte. God het gesien dat dit goed was.
13. Dit het op die derde dag gebeur.
14. God het beveel: “Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word en dit ook kan dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal.
15. Die ligte in die hemelkoepel moet ook die aarde verlig.” Dit het toe so gebeur.
16. So het God die twee groot ligte gemaak: die grootste om in die dag te skyn en die kleiner een om in die nag te skyn. Hy het ook die sterre gemaak.
17. God het hierdie ligte in die hemelkoepel geplaas om die aarde te verlig,
18. die een in die dag en die ander in die nag en ook om lig en donkerte van mekaar te skei. God het gesien dat dit goed was.
19. Dit het op die vierde dag gebeur.
20. God het verder beveel: “Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg.”
21. God het die groot seediere geskep, al die verskillende soorte wesens wat in die water lewe, asook al die baie soorte voëls. God was tevrede met wat Hy gesien het.
22. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die oseane en laat die voëls op die aarde vermeerder.”
23. Dit het op die vyfde dag gebeur.
24. God het weer beveel: “Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer: mak diere, diere wat kruip en wilde diere – almal na eie aard.” Dit het presies so gebeur.
25. So het God allerlei soorte wilde diere gemaak, mak diere en diere wat op die grond kruip. God het gesien dit was goed.
26. God sê toe: “Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.”
27. God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep.