Galasiërs 4:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ek bedoel: Solank ’n erfgenaam minderjarig is, verskil sy posisie nie eintlik van dié van ’n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.

2. Tot op die dag wat die pa bepaal het, staan die erfgenaam onder toesig en bestuur.

3. Toe ons nog geestelik minderjarig was, het ons die magte van die wêreld soos slawe gedien.

4. Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore, onder die wet,

5. sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.

6. En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”.

7. Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind. En as sy kind het God jou sy erfgenaam gemaak!

8. Toe julle God nog nie geken het nie, was julle slawe van gode wat nie regtig gode is nie.

9. Nou ken julle egter vir God, of eerder: God ken julle. Hoe is dit dan moontlik dat julle weer na die patetiese en armsalige magte van die wêreld wil terugkeer om hulle soos slawe te dien?

Galasiërs 4