Esegiël 48:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Hier is die lys van die stamme van Israel en die gebied wat elkeen moet kry: Die grond van Dan is in die noorde. Die grenslyn volg die Getlonpad na Lebo-Hamat, dan na Gasar-Enan op die grens met Damaskus, met Hamat aan die noordekant. Dan se gebied strek heelpad oor die grondgebied van Israel, van die ooste na die westekant toe.

2. Aser se gebied lê suid van Dan en strek ook van oos na wes.

3. Naftali se gebied lê suid van Aser, ook van oos na wes.

4. Manasse se grond lê suid van Naftali, en strek ook van oos na wes.

5. Suid van Manasse lê Efraim,

6. en dan Ruben

7. en dan Juda. Hulle almal se grense strek van oos na wes.

8. “Suid van Juda is die grond wat opsy gesit word vir ’n spesifieke doel. Die heiligdom moet in hierdie gebied wees. Dit moet dertien en ’n half kilometer breed wees en net so lank soos die stamme se gebiede, van die oostelike tot by die westelike grens.

9. Die gebied wat julle opsy sit vir die Here se tempel moet dertien en ’n half kilometer lank en tien en ’n half kilometer breed wees.

10. Hierdie gebied is tot beskikking van die priesters, en moet ’n strook wees van dertien en ’n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die heiligdom van die Here is in die middel hiervan.

Esegiël 48