Esegiël 37:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, hierdie bene is die mense van Israel. Hulle sê: ‘Ons het ou, droë bene geword. Daar is geen hoop vir ons oor nie!’

12. Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: My volk, Ek maak die grafte van ballingskap oop en laat julle opstaan. En Ek bring julle terug na die land Israel.

13. My volk, wanneer dit gebeur en Ek julle uit julle grafte bring, dan sal julle besef dat Ek die Here is.

14. Ek sit my Gees in julle, en julle sal lewe en terugkeer huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Julle sal sien dat Ek presies gedoen het soos Ek belowe het. Ek, die Here, het so gesê!”

15. Die Here het vir my gesê:

16. “Mensekind, vat ’n stok en krap dié woorde daarop uit: ‘Hierdie stok is Juda en sy bondgenote.’ Vat nog ’n stok en krap daarop uit: ‘Hierdie stok is die noordelike stamme van Israel.’

17. Hou nou die twee stokke soos een stok saam in jou hand.

18. Wanneer jou mense vra wat beteken dít wat jy doen,

19. sê vir hulle: ‘So sê die oppermagtige Here: Ek vat die noordelike stamme en voeg hulle by Juda. Ek maak hulle een stok in my hand.’

20. Hou dan die stokke vas waarop jy geskryf het sodat die mense kan sien.

Esegiël 37