Esegiël 33:11-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Ek wil nie hê skuldige mense moet doodgaan nie. Ek wil net hê hulle moet omdraai van hulle bose optrede sodat hulle kan lewe. Draai om! Draai weg van julle boosheid, mense van Israel! Hoekom wil julle doodgaan?

12. “Mensekind, sê vir jou volksgenote: Die goeie dade van regverdige mense sal hulle nie red as hulle sonde doen nie. En die sondes van bose mense sal nie teen hulle tel as hulle hulle bekeer en wegdraai van hulle sonde nie.

13. As Ek vir regverdige mense sê hulle sal lewe, maar hulle begin dan sonde doen en verwag dat hulle regte optrede van die verlede hulle sal red, dan sal niks van hulle goeie dade onthou word nie. Ek sal hulle oor hulle sondes vernietig.

14. As Ek vir bose mense sê hulle sal doodgaan, maar hulle draai weg van hulle sondes en doen wat reg en goed is,

15. soos die goed teruggee wat hulle as waarborg vir skuld gehou het, of terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie; as hulle dit doen, sal hulle beslis lewe en nie doodgemaak word nie.

16. Hulle sondes sal nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat reg en goed is, en hulle sal verseker lewe.

17. “Jou mense sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar dis julle wat nie regverdig optree nie!

Esegiël 33