32. “Julle sê: ‘Ons wil soos die nasies rondom ons wees wat afgode van hout en klip aanbid.’ Maar wat julle wil, sal nooit gebeur nie.
33. “So seker as Ek lewe, sê die oppermagtige Here, Ek sal met ’n ystervuis en met mag oor julle regeer en Ek sal my woede oor julle uitgiet.
34. Ek bring julle met ’n ystervuis en met mag tussen die nasies uit en Ek maak julle bymekaar uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het.
35. “En Ek bring julle na die woestyn van die nasies en daar oordeel Ek oor julle van aangesig tot aangesig.
36. Daar sal Ek julle oordeel soos Ek julle voorouers in die woestyn geoordeel het nadat Ek hulle uit Egipte gebring het, sê die oppermagtige Here.
37. Ek sal julle sorgvuldig tel en julle verantwoordelik hou vir die eise wat my ooreenkoms aan julle stel.
38. Ek sal julle skoonmaak van almal wat opstandig teen My is en sondig. Ek sal hulle uit die lande bring waar hulle in ballingskap woon. Maar hulle sal nooit weer in die land Israel ingaan nie. Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat Ek die Here is.
39. “Wat julle aangaan, volk van Israel, so sê die oppermagtige Here: As julle dan wil, loop agter julle afgode aan en aanbid hulle. Maar dan moet julle nie omdraai en nog verder oneer aan My bring met julle geskenke en afgode nie.
40. Want op my heilige berg, die hoë berg van Israel, sê die oppermagtige Here, sal die mense van Israel My eendag aanbid. En Ek sal hulle aanvaar. Daar sal Ek bereid wees om julle bydraes en die keur van julle geskenke en julle offers te aanvaar.
41. Die dag as Ek julle huis toe vat uit julle ballingskap, sal julle vir My soos ’n offer met ’n heerlike reuk wees. Ek sal my heiligheid tussen julle vertoon waar al die nasies dit kan sien.
42. “Wanneer Ek julle huis toe gebring het, na die land Israel wat Ek aan julle voorouers belowe het, sal julle weet dat Ek die Here is.
43. Julle sal terugkyk na al julle sondes. En julle sal julleself verafsku oor al die boosheid wat julle aangevang het.
44. Julle sal weet, mense van Israel, dat Ek die Here is wanneer Ek julle behandel soos die eer van my Naam vereis en nie volgens julle bose weë en afskuwelike dade nie, sê die oppermagtige Here.”
45. Die Here het ook nog vir my gesê:
46. “Mensekind, kyk na die suide en praat daarteen. Profeteer teen die woude van die Negevwoestyn.
47. “Sê vir die suidelike woestyn die oppermagtige Here sê: Hoor die woord van die Here! Woud, Ek steek jou aan die brand. Elke groen en droë boom in jou sal afbrand. Die verskriklike vlamme sal nie geblus word nie. Hulle sal alles afbrand van die suide tot die noorde.
48. “Die hele wêreld sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie.”
49. Toe sê ek: “Oppermagtige Here, hulle sê van my: ‘Hy praat heeldag in raaisels!’”