Esegiël 20:28-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Want toe Ek hulle in die land bring wat Ek aan hulle belowe het, het hulle offers gebring en wierook gebrand op elke heuwel en onder elke groen boom wat hulle gesien het. Hulle het My kwaad gemaak met hulle offers vir hulle afgode. Hulle het wierook gebrand en drankoffers voor hulle uitgegiet.

29. Toe het Ek vir hulle gevra: ‘Wat is hierdie hoogte waarheen julle gaan?’“Dié plekke word vandag nog Bama – ‘hoogte’ – genoem.

30. “Daarom, gaan sê vir die mense van Israel die oppermagtige Here sê: Gaan julle julle besoedel net soos julle voorouers gedoen het? Gaan julle ontrou wees aan My deur voor die afstootlike afgode te buig?

31. Want elke keer as julle geskenke vir hulle bring en julle kinders as offers vir hulle verbrand, besoedel julle julleself, tot vandag toe. En moet Ek dan nou luister en julle help, mense van Israel? So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Ek sal nie met julle praat nie, selfs al kom vra julle vir ’n boodskap.

32. “Julle sê: ‘Ons wil soos die nasies rondom ons wees wat afgode van hout en klip aanbid.’ Maar wat julle wil, sal nooit gebeur nie.

33. “So seker as Ek lewe, sê die oppermagtige Here, Ek sal met ’n ystervuis en met mag oor julle regeer en Ek sal my woede oor julle uitgiet.

34. Ek bring julle met ’n ystervuis en met mag tussen die nasies uit en Ek maak julle bymekaar uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het.

Esegiël 20