Esegiël 18:27-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. En as slegte mense van hulle slegte optrede wegdraai en doen wat die wet vereis en wat reg is, sal hulle hulle eie lewe red.

28. Hulle sal lewe omdat hulle oor hulle lewe nagedink het en besluit het om van hulle sondes weg te draai. Sulke mense sal nie doodgaan nie.

29. “En tog hou die mense van Israel aan om te sê: ‘Die Here is onregverdig!’ Mense van Israel, dit is julle wat onregverdig is, nie Ek nie!

30. “Daarom, mense van Israel, sal Ek elkeen van julle oordeel ooreenkomstig wat julle doen, sê die oppermagtige Here. Draai om! Draai weg van julle sondes af! Moenie dat dit julle vernietig nie!

31. Plaas al julle opstandigheid agter julle, en kry vir julleself ’n nuwe hart en ’n nuwe gees. Want hoekom wil julle sterf, mense van Israel?

32. Ek wil nie dat julle doodgaan nie, sê die oppermagtige Here. Draai terug en lewe!”

Esegiël 18