Esegiël 18:20-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Die een wat sonde doen, word doodgemaak. ’n Kind sal nie vir die ouer se sondes gestraf word nie. En ’n ouer sal nie vir die kind se sondes gestraf word nie. Regverdige mense sal beloon word vir die goeie wat hulle doen. En slegte mense sal gestraf word vir die slegte wat hulle doen.

21. “Maar as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en my voorskrifte begin gehoorsaam en doen wat goed en reg is, sal hulle verseker lewe. Hulle sal nie doodgemaak word nie.

22. Al die verkeerde dade van die verlede sal vergeet word. Hulle sal lewe omdat hulle doen wat goed en reg is.

23. “Dink julle, vra die oppermagtige Here, dat Ek daarvan hou om slegte mense te sien doodgaan? Natuurlik nie! Wil Ek nie veel eerder sien dat hulle omdraai van hulle slegte paaie en lewe nie?

24. “Maar as regverdige mense omdraai en op die verkeerde paaie gaan loop en slegte dinge begin doen nes ander sondaars, sal hulle toegelaat word om te bly lewe? Nee, natuurlik nie! Al die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal vergete wees. Hulle sal oor hulle ontrouheid doodgemaak word.

25. “Tog sê julle: ‘Die Here is nie regverdig nie!’ Luister na My, mense van Israel. Is dit Ek wat onregverdig optree, of is dit julle?

26. Wanneer regverdige mense van die goeie af wegdraai en slegte dinge begin doen, sal hulle daaroor doodgemaak word. Ja, hulle sal sterf oor hulle sondige dade.

Esegiël 18