Eksodus 39:2-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Die skouerkleed was van fyn linne waarin gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol geweef was.

3. ’n Kunstenaar het goud in dun velle uitgerol en dun repies daaruit gesny. Hy het dit saam met die blou, pers en bloedrooi wol ingeweef in die materiaal.

4. Hulle het aan die skouerkleed twee skouerbande gemaak waarmee dit aan die skouers vasgemaak kan word.

5. Hulle het ook ’n gordel gemaak waarmee die skouerkleed om die heupe vasgetrek word. Dit was uit dieselfde fyn linne met blou en pers en bloedrooi wol ingeweef. Dit was presies net soos die Here vir Moses gesê het.

6. Hulle het oniks poleer en dit in goud gemonteer. Hulle het daarin die name van die stamme van Israel gegraveer.

7. Dit is op die skouerbande van die skouerkleed vasgesit. Hierdie stene het die Here aan die volk van Israel herinner. Dit is alles presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

8. Die sak wat voor die bors kom, is op dieselfde manier as die skouerkleed gemaak. Dit was van fyn linne waarop gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is.

9. Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm van 25 sentimeter lank en breed.

10. Hulle het hierop vier rye met drie edelstene elk vasgemaak. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag.

11. In die tweede ry was daar turkoois, saffier en jaspis.

12. In die derde ry was daar hiasint, agaat en ametis.

13. Die laaste ry het chrisoliet, oniks en opaal gehad. Elkeen was in goud gemonteer.

14. In elke steen was ’n naam van die twaalf stamme van Israel fyn gegraveer.

15. Om die borssak aan die skouerkleed vas te maak, het hulle goue kettinkies gemaak wat soos tou gevleg is.

16. Hulle het ook twee ringetjies gemaak wat hulle aan die bokant van die borssak vasgewerk het.

17. Die kettinkies is deur die ringetjies gesteek.

18. Die punte van die kettinkies is aan die bande vasgewerk wat oor die skouers kom.

19. Twee ander ringetjies is aan die onderkant van die borssak vasgewerk. Hulle was aan die agterkant vasgewerk waar dit oor die skouerkleed kom.

20. Twee ringetjies is ook vasgewerk aan die skouerkleed waar die gordel kom.

21. Hierdie onderste ringetjies is aan mekaar vasgemaak met blou toutjies om te keer dat die borssak afsak. Alles is presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

Eksodus 39