Eksodus 35:22-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Almal wat gewillig was, sowel mans as vroue, het gekom en vir die Here borsspelde, oorringe, halssnoere en voorwerpe van goud gegee.

23. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring.

24. Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here iets van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.

25. Al die vroue wat bedrewe was met weefwerk het gekom en blou, pers en rooi materiaal en fyn linnestof vir die Here gebring.

26. Die vroue wat gewillig was en dit kon doen, het bokhaar gespin.

27. Die leiers het onikssteen en die ander edelstene geskenk wat vir die skouerstuk en die borssak nodig was.

28. Hulle het ook die speserye en die olie vir die kandelaar gebring, die salfolie en die geurige wierook.

29. So het elke man en vrou van die Israeliete wat bereid was, vrywillige bydraes gemaak om te help met die werk wat die Here vir hulle deur Moses opgedra het.

30. Moses het vir die Israeliete gesê: “Die Here het Besaleël, die seun van Uri uit die Judastam gekies.

31. God se Gees gee vir hom die verstand, die kennis en die vaardigheid vir die werk wat gedoen moet word.

32. Hy kan voorwerpe maak uit goud, silwer en koper.

33. Hy kan edelstene bewerk en dit monteer en ook houtsnywerk doen. Hy is in staat om enige kunswerk te maak.

34. God het vir hom en Oholiab, seun van Agisamak uit die Danstam, die vermoë gegee om ander op te lei.

35. Die Here stel hulle in staat om graveerwerk, borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne.”

Eksodus 35