Eksodus 30:17-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Die Here het vir Moses gesê:

18. “Maak ’n koperhouer op ’n kopervoetstuk om in te was. Sit dit tussen die tabernakel en die altaar en gooi dit vol water.

19. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was

20. wanneer hulle in die tabernakel ingaan om voor die Here te verskyn of om ’n offer te bring. Hulle moet hulle was voordat hulle diens verrig, anders sal hulle sterf.

21. Dis ’n vaste reël vir Aäron en sy opvolgers en moet deur elke geslag nagekom word.”

22. Die Here het verder vir Moses gesê:

23. “Kry die volgende bymekaar: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes,

24. 500 dele kassie en vier liter olyfolie.

25. Meng dit met mekaar en maak daarvan heilige salfolie.

26. Gebruik dit om die tabernakel en die ark van die verbond te salf.

27. Salf daarmee ook die tafel en al sy toebehore, die kandelaar en al sy toebehore, die wierookaltaar,

28. die brandofferaltaar met sy toebehore en die waskom met sy voetstuk.

29. Dra hulle almal aan die Here op. Enigeen wat daarna daaraan raak, sal vir die Here geheilig wees.

30. “Jy moet ook Aäron en sy seuns met die olie salf en hulle aan My wy om my priesters te wees.

31. “Sê ook vir die Israeliete: ‘Hierdie olie sal altyd my heilige olie wees.

32. Dit mag nooit vir enige ander mens gebruik word nie. Julle mag ook nie daarvan vir julleself gebruik nie. Dit is heilig en moet altyd as heilig beskou word.

33. “‘Enigeen wat net so ’n mengsel maak of daarvan aan iemand sit wat nie ’n priester is nie, sal uit die gemeenskap verwyder word.’”

34. Die Here het verder vir Moses gesê: “Meet gelyke hoeveelhede speserye af van hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook.

Eksodus 30