Eksodus 2:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê.

7. Die seuntjie se suster het toe nadergekom en die prinses gevra: “Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan haal om die baba vir u te versorg?”

8. “Ja, asseblief,” het die farao se dogter geantwoord. Die meisie het die seuntjie se ma gaan roep.

9. “Vat hierdie babatjie en gaan voed hom,” het die farao se dogter vir haar gesê. “Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy eie ma het hom gevat en gaan versorg.

10. Toe hy groot genoeg was, het sy hom na die farao se dogter gevat en sy het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het hom “Moses” genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom uit die water gehaal.”

11. Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand.

Eksodus 2