Eksodus 16:26-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Ses dae lank moet julle kos gaan bymekaarmaak, maar die sewende dag is die Here se Sabbat. Op hierdie dag sal daar nie kos op die grond wees nie.”

27. Op die sewende dag het party mense tog wel in die veld na kos gaan soek. Hulle kon egter niks kry nie.

28. Die Here het toe vir Moses gevra: “Hoe lank gaan julle bly weier om na My te luister en te doen wat Ek sê?

29. Kan julle nie insien dat die Here die Sabbat gegee het om op te rus nie? Op die sesde dag gee Hy genoeg vir twee dae. Op die sewende dag moet julle rus. Niemand mag op die Sabbatdag van sy huis af weggaan om kos te gaan soek nie.”

30. Die volk het toe op die sewende dag gerus.

31. In Israel is hierdie kos toe “manna” genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het na heuning geproe.

32. Moses het vir hulle gesê: “Die Here het gesê ons moet twee kilogram manna vir die nageslag bewaar sodat hulle kan sien watter soort kos die Here ons laat eet het toe Hy ons uit Egipte bevry het.”

33. Moses het vir Aäron gesê: “Maak ’n houer vol met twee kilogram manna. Bewaar dit waar die Here aanbid word dat die nageslag dit kan sien.”

34. Aäron het gedoen wat Moses vir hom gesê het. Hy het dit in die ark van die verbond gehou.

35. So het Israel manna geëet vir 40 jaar lank totdat hulle weer in ’n bewoonde gebied gekom het. Hulle het manna geëet tot hulle by die grens van Kanaän aangekom het.

36. (Die houer waarin twee liter afgemeet is, was een tiende van die gewone eenheid.)

Eksodus 16