Eksodus 13:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “Julle moet op die dag van die fees aan julle kinders vertel waaroor dit gaan. Julle moet vir hulle verduidelik: ‘Ons vier fees oor wat die Here vir ons gedoen het toe ons uit Egipte weg is.’

9. Hierdie jaarlikse fees sal julle daaraan herinner. Dit sal soos ’n merk op jou hand en ’n herinneringsteken op jou voorkop wees. Dit sal julle help om altyd die Here se bevele in gedagte te hou. Dit was tog die Here wat julle met sy groot krag uit Egipte gered het.

10. “Onthou hierdie opdrag sodat julle die fees elke jaar op die vasgestelde tyd kan hou.

11. Onthou hierdie voorskrifte wanneer die Here julle in die land gebring het waar die Kanaäniete nou woon. Hy het dit lankal reeds aan julle voorouers belowe.

12. Al die oudste seuns en manlike diere wat eerste gebore is, moet dan aan die Here opgedra word.

13. Jy moet die eerste donkie wat gebore word, omruil met ’n skaap wat in sy plek vir die Here gegee word. As julle nie so wil maak nie, moet die donkie se nek gebreek word. Jy is egter verplig om jou seun wat eerste gebore is los te koop.

14. “Wanneer julle seuns vorentoe vir julle vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet julle vir hulle vertel: ‘Die Here het ons met sy groot krag van die slawewerk in Egipte bevry.

15. Die farao het bly weier om ons te laat gaan. Die Here het toe deur die hele Egipte die seuns en die diere wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit is hoekom ons almal wat eerste gebore is vir die Here offer, behalwe die seuns wat ons eerder kan loskoop.’

16. Hierdie fees sal dus soos ’n merk op jou hand en ’n teken op jou voorkop wees. Dit sal julle herinner dat die Here julle met sy groot krag uit Egipte bevry het.”

Eksodus 13