8. Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”
9. Moses het toe hierdie gebooie neergeskryf en dit vir die priesters wat die ark van die verbond dra en vir die leiers van Israel gegee.
10. Moses het hulle toe soos volg beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, die jaar van die kwytskelding, gedurende die Huttefees,
11. moet jy hierdie gebooie vir die hele volk van Israel lees. Doen dit wanneer hulle in die teenwoordigheid van die Here julle God byeengekom het op die plek wat Hy sal kies.
12. Roep almal bymekaar, mans, vroue en kinders en ook die vreemdelinge wat in julle dorpe woon, sodat hulle kan luister en leer om ontsag te hê vir die Here julle God en om sorgvuldig gehoorsaam te wees aan al die bepalings van hierdie gebooie.
13. Doen dit sodat jou kinders wat hierdie gebooie nie ken nie, sal hoor en sal leer om ontsag te hê vir die Here julle God. Doen dit so lank as wat julle in die land bly, hierdie land wat julle in besit gaan neem wanneer julle deur die Jordaan trek.”
14. Toe het die Here vir Moses gesê: “Die dag van jou dood is naby. Roep vir Josua en neem hom saam met jou na die tabernakel en daar sal Ek hom sy opdragte gee.” Moses en Josua het toe na die tent van ontmoeting gegaan.
15. Die Here het by die ingang van die heilige tent in ’n wolkkolom aan hulle verskyn.