Deuteronomium 31:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Moses het verder met die hele Israel gepraat

2. en gesê: “Ek is nou 120 jaar oud en is nie meer in staat om julle te lei nie. Die Here het vir my gesê dat ek nie die Jordaanrivier mag oorsteek nie.

3. Die Here julle God sal self voor julle uit deur die Jordaanrivier trek. Hy sal die nasies daar vernietig en julle sal hulle land in besit neem. Josua is julle nuwe leier en hy sal saam met julle gaan, net soos die Here beloof het.

4. Die Here sal daardie nasies vernietig net soos Hy vir Sihon en Og, die konings van die Amoriete, vernietig het.

5. Die Here sal hulle in julle hand oorgee en julle moet met hulle maak soos ek julle beveel het.

6. Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.”

7. Toe het Moses vir Josua geroep. In die teenwoordigheid van die hele Israel het hy vir Josua gesê: “Wees sterk en hou moed! Jy sal hierdie volk die land inlei, die land wat die Here aan hulle voorouers beloof het. Jy sal die land as hulle erfdeel aan hulle gee.

8. Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”

9. Moses het toe hierdie gebooie neergeskryf en dit vir die priesters wat die ark van die verbond dra en vir die leiers van Israel gegee.

10. Moses het hulle toe soos volg beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, die jaar van die kwytskelding, gedurende die Huttefees,

11. moet jy hierdie gebooie vir die hele volk van Israel lees. Doen dit wanneer hulle in die teenwoordigheid van die Here julle God byeengekom het op die plek wat Hy sal kies.

12. Roep almal bymekaar, mans, vroue en kinders en ook die vreemdelinge wat in julle dorpe woon, sodat hulle kan luister en leer om ontsag te hê vir die Here julle God en om sorgvuldig gehoorsaam te wees aan al die bepalings van hierdie gebooie.

13. Doen dit sodat jou kinders wat hierdie gebooie nie ken nie, sal hoor en sal leer om ontsag te hê vir die Here julle God. Doen dit so lank as wat julle in die land bly, hierdie land wat julle in besit gaan neem wanneer julle deur die Jordaan trek.”

Deuteronomium 31