Deuteronomium 30:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “As al hierdie dinge met jou gebeur het, die seën en vervloeking wat ek aan jou voorhou, dink daaroor na wanneer jy tussen die vreemde nasies moet leef waarheen die Here jou God jou in ballingskap weggevoer het.

2. As jy dan na die Here jou God terugkeer en jy en jou kinders begin weer om van harte gehoorsaam te wees aan die gebooie wat ek jou vandag gee,

3. sal die Here jou God jou situasie verander. Hy sal jou genadig wees en jou terugbring uit al die nasies waarheen Hy jou verstrooi het.

4. Selfs al was jy tot aan die uithoeke van die aarde verstrooi, sal die Here jou God jou daar bymekaarmaak en jou weer terugbring.

5. Hy sal jou terugbring na die land wat aan jou voorouers behoort het en jy sal weer die land besit. Hy sal jou selfs meer voorspoedig en talryker maak as wat jou voorouers was.

6. “Die Here jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag besny sodat jy Hom met hart en siel sal liefhê. Dan sal jy lewe!

7. Die Here jou God sal al die vervloekings op jou vyande en jou vervolgers laat neerkom.

Deuteronomium 30