43. Die vreemdelinge wat tussen julle woon, sal al sterker en sterker word, terwyl jy al hoe swakker en swakker sal word.
44. Hy sal aan jou geld leen, maar jy sal nie vir hom kan leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert!
45. “Al hierdie vervloekings sal jou agtervolg, inhaal en vernietig as jy weier om na die Here jou God te luister en nie die bevele en voorskrifte gehoorsaam wat Hy aan jou gee nie.
46. Al hierdie dinge sal vir altyd ’n waarskuwingsteken vir jou en jou afstammelinge wees.
47. Omdat jy nie die Here jou God met vreugde en entoesiasme gedien het vir die oorvloed van seën wat jy ontvang het nie,
48. sal jy jou vyande dien wat die Here jou God teen jou sal stuur. Jy sal honger, dors en kaal gelaat word en in alles gebrek ly. Hulle sal jou wreed onderdruk totdat jy vernietig is.
49. “Die Here sal ’n nasie van ver af, van die einde van die aarde af, teen jou bring. Hy sal soos ’n arend neerswiep op jou. Dit is ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,
50. ’n sterk en hartelose nasie wat geen respek vir oumense het nie en geen jammerte vir jongmense nie.
51. Sy leërs sal jou diere en die oes op jou lande verteer en jy sal van honger doodgaan. Hulle sal vir jou geen graan of wyn, olyfolie, kalwers of lammers laat oorbly totdat hulle jou ook heeltemal vernietig het nie.
52. Hulle sal jou stede beleër totdat al die versterkte mure in jou land, die mure wat jou moes beskerm, afgebreek is. Hulle sal al die dorpe in die land aanval wat die Here jou God vir jou gegee het.
53. Die beleg sal so erg wees dat jy die vleis van jou eie seuns en dogters wat die Here jou God aan jou gegee het, sal eet.
54. Die sagste man onder julle sal geen simpatie hê met sy eie broer of sy geliefde vrou of sy kinders wat nog lewe nie.
55. Hy sal vir nie een van hulle gee van die vleis van sy eie kinders wat hy besig is om te eet nie. Dit is al wat hy sal oorhê as gevolg van die lyding wat die vyand gedurende die beleëring van al die stede sal meebring.
56. Die sagste en mees sensitiewe vrou onder julle, so sag dat sy nie eers haar voet op die grond sal sit nie, sal niks omgee vir die man wat sy liefhet of vir haar eie seun en dogter nie.