37. Jy sal verbasing uitlok, ’n spreekwoord en ’n bespotting word onder die nasies waarheen die Here jou sal stuur.
38. “Jy sal baie plant, maar min oes, want sprinkane sal jou oeste opvreet.
39. Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie enige wyn daarvan drink of druiwe daarvan eet nie, want wurms sal dit opvreet.
40. Jy sal oral in jou land olyfbome hê, maar jy sal nooit olyfolie daarvan kan maak nie, want die olywe sal voor die tyd al afval.
41. Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal nie in staat wees om hulle te behou nie, want hulle sal in gevangenskap weggevoer word.
42. Swerms insekte sal jou bome en oeste vernietig.
43. Die vreemdelinge wat tussen julle woon, sal al sterker en sterker word, terwyl jy al hoe swakker en swakker sal word.
44. Hy sal aan jou geld leen, maar jy sal nie vir hom kan leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert!
45. “Al hierdie vervloekings sal jou agtervolg, inhaal en vernietig as jy weier om na die Here jou God te luister en nie die bevele en voorskrifte gehoorsaam wat Hy aan jou gee nie.
46. Al hierdie dinge sal vir altyd ’n waarskuwingsteken vir jou en jou afstammelinge wees.
47. Omdat jy nie die Here jou God met vreugde en entoesiasme gedien het vir die oorvloed van seën wat jy ontvang het nie,
48. sal jy jou vyande dien wat die Here jou God teen jou sal stuur. Jy sal honger, dors en kaal gelaat word en in alles gebrek ly. Hulle sal jou wreed onderdruk totdat jy vernietig is.