Deuteronomium 28:24-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Die Here sal jou reën in sand en stof verander en dit sal uit die lug op jou neersak en jou verswelg.

25. “Die Here sal maak dat jy deur jou vyande verslaan word. Jy sal jou vyande van een kant af aanval, maar jy sal in sewe rigtings wegvlug. Jy sal ’n verbasing vir al die nasies van die aarde word.

26. Jou lyke sal kos vir voëls en wilde diere wees sonder dat daar iemand sal wees om hulle weg te jaag.

27. “Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met gewasse, skurfte en jeuksiektes waarvan jy nie gesond sal word nie.

28. Die Here sal jou tref met kranksinnigheid, blindheid en paniek.

29. Jy sal in helder daglig rondtas soos wat ’n blinde in die donker rondtas en jy sal onsuksesvol wees in alles wat jy doen. Jy sal aanhoudend onderdruk en beroof word, en niemand sal tot jou redding kom nie.

30. “Jy sal aan ’n vrou verloof wees, maar ’n ander man sal haar by haar slaap. Jy sal ’n huis bou, maar nie self daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar nooit die vrugte daarvan geniet nie.

31. Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar sonder dat jy ’n stukkie van die vleis daarvan kry om te eet. Jou donkie sal weggeneem word sonder dat dit ooit weer na jou toe sal terugkom. Jou skaap sal vir jou vyande gegee word sonder dat daar iemand sal wees om jou te help.

32. Jy sal sien hoe jou seuns en dogters as slawe weggevoer word na ’n vreemde volk. Jou oë sal moeg word wanneer jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal magteloos wees om ’n hand op te lig.

33. ’n Vreemde nasie van wie jy nog nooit gehoor het nie, sal die opbrengs van jou land opeet waaraan jy so hard gewerk het. Jy sal ly onder aanhoudende onderdrukking en swaarkry.

34. Jy sal kranksinnig word van die tragedie wat jy rondom jou sien.

Deuteronomium 28