9. Die Here het ons gewaarsku: ‘Moenie die Moabiete, die afstammelinge van Lot, pla of teen hulle oorlog maak nie. Ek het vir hulle Ar as hulle eiendom gegee en Ek sal niks van hulle land vir julle gee nie.’”
10. Die Emiete het vroeër in die omgewing van Ar gewoon. Hulle was ’n groot en sterk volk van reuse, net so groot soos die Enakiete.
11. Die Emiete en die Enakiete word albei ook die Refaïete genoem, maar die Moabiete noem hulle die Emiete.
12. Vroeër het die Goriete by Seïrberg gewoon, maar hulle is uitgedryf en vervang met die afstammelinge van Esau. Op ’n soortgelyke manier is die volke van Kanaän verdryf uit die land wat die Here vir Israel gegee het.
13. Moses het voortgegaan: “Die Here het ons toe aangesê om die Seredspruit oor te steek en ons het dit gedoen.
14. Daar het dus 38 jaar verbygegaan van die tyd toe ons by Kades-Barnea aangekom het totdat ons uiteindelik die Seredspruit oorgesteek het. Die Here het gesweer dat dit nie kon gebeur voordat al die mans wat oud genoeg was om oorlog te maak, in die woestyn omgekom het nie.
15. Die Here het sy hand teen hulle gelig totdat hulle almal omgekom het.
16. “Toe al hierdie mans wat reg was om te veg, uitgesterf het,
17. het die Here vir my gesê:
18. ‘Vandag sal julle die grens van Moab by Ar oorsteek
19. en die land van die Ammoniete binnegaan. Moenie die Ammoniete, die afstammelinge van Lot, pla of ’n oorlog met hulle begin nie. Ek het aan hulle die land Ammon as hulle eiendom gegee en Ek sal ook nie enige deel van hulle land vir julle gee nie.’”
20. (Daardie gebied is ook vroeër gesien as die land van die Refaïete, alhoewel die Ammoniete hulle die Samsummiete genoem het.
21. Hulle was ook ’n talryke en sterk nasie en so groot soos die Enakiete. Die Here het hulle egter verdelg sodat die Ammoniete hulle land kon inneem.
22. Hy het die afstammelinge van Esau by Seïrberg op dieselfde manier gehelp deur die Goriete te verdelg sodat hulle daar kon gaan woon. Die afstammelinge van Esau woon tot vandag toe nog daar.
23. ’n Soortgelyke ding het gebeur toe die Kaftoriete van Kreta die Awwiete wat in dorpies in die omgewing van Gasa gewoon het, ingeval en verdelg het.)
24. Moses het voortgegaan: “Toe het die Here gesê: ‘Steek nou die Arnonkloof oor! Ek sal jou help om Sihon die Amoriet, die koning van Gesbon, te verslaan en sy land vir jou te gee. Val hom aan en begin om die land in besit te neem.
25. Van vandag af sal Ek al die volke op aarde vreesbevange vir jou maak. Wanneer hulle van jou hoor, sal hulle bewe van angs.’”
26. “Uit die Kedemotwoestyn het ek boodskappers na koning Sihon van Gesbon gestuur met hierdie vredesvoorstel:
27. ‘Laat ons deur jou land trek. Ons sal op die hoofpad bly en nie na links of regs in die veld afdraai nie.