7. As ’n dier nie aan albei vereistes voldoen nie, mag dit nie geëet word nie. Julle mag dus nie ’n kameel, haas of dassie eet nie. Hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie.
8. ’n Vark mag nie geëet word nie, want al het hy gesplete hoewe, herkou hy nie. Al hierdie diere is vir julle onrein. Julle mag hulle nie eet of selfs aan die karkasse van sulke diere raak nie.
9. “Wat betref die diere in die water: Julle mag alles eet wat vinne en skubbe het,
10. maar julle mag nie waterdiere eet wat nie vinne en skubbe het nie. Hulle is vir julle onrein.
11. “Julle mag enige voël wat rein is, eet.
12. Die voëls wat julle nie mag eet nie, is: arende, lammervangers, aasvoëls,
13. swart-aasvoëls, verskillende valksoorte,
14. al die kraaisoorte,
15. volstruise, nagvalke, seemeeue, verskillende soorte roofvoëls,
16. die klein uile, groot uile, wituile,
17. pelikane, klein-aasvoëls, visvangers,
18. ooievaars, al die soorte reiers, die hoep-hoep en vlermuise.
19. “Alle vlieënde insekte is onrein en mag nie geëet word nie,
20. maar alle rein voëls mag julle eet.
21. “Julle mag nie iets eet wat ’n natuurlike dood gesterf het nie. Julle mag dit vir ’n vreemdeling gee wat by julle woon. Julle mag dit ook aan ’n vreemdeling verkoop. Maar julle mag dit nie self eet nie, want julle is ’n volk wat afgesonder is vir die Here julle God. Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”
22. “Jy moet ’n tiende van jou oes eenkant sit, een tiende van alles wat jy elke jaar oes.
23. Bring die tiende na die plek wat die Here jou God kies om sy Naam te eer en eet dit daar in sy teenwoordigheid. Hierdie reëling geld vir die tiendes van jou graan, wyn, olyfolie en die manlike eersgeborenes uit jou grootvee en kleinvee. Die doel van die tiendes is om jou te leer om altyd die Here jou God te eer.