Daniël 8:8-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die bok het buitengewoon sterk geword. Op die hoogtepunt van sy krag is sy groot horing egter afgebreek. In die plek daarvan het vier opvallende horings uitgekom. Dit het in al vier windrigtings gewys.

9. Uit een van hulle het ’n klein horinkie gekom wat kragtig na die suide, die ooste en na die mooi land van Israel uitgegroei het.

10. Dit het met krag opgetrek teen die magte van die hemel en sommige van hulle asook sommige van die sterre teen die grond gegooi en vertrap.

11. Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse magte aangedurf. Hy het die gereelde offer wat vir God gebring word tot niet gemaak en sy tempel verwoes.

12. Deur sy verkeerde optrede is die hemelse magte aan hom uitgelewer, die gereelde offer opgehef en die waarheid in die grond vertrap. Hy was voorspoedig in alles wat hy gedoen het.

13. Ek het in ’n gesprek tussen twee heiliges die een vir die ander hoor vra: “Hoe lank hou die visioen aan, die visioen van die daaglikse offer, die opstand wat verwoes en die heiligdom en hemelse mag wat vertrap word?”

14. Die ander een het geantwoord: “2 300 dae dan sal die heiligdom weer gewy word.”

15. Terwyl ek, Daniël, nagedink het oor die visioen wat ek gesien het, het daar skielik iemand voor my kom staan wat soos ’n man lyk.

16. Ek het langs die Ulairivier ’n mens se stem hoor roep wat sê: “Gabriël, verduidelik tog vir hierdie man wat die gesig beteken!”

17. Hy het na die plek toe gekom waar ek gestaan het. Toe hy naderkom, het ek so bang geword dat ek vooroor geval het. Hy het vir my gesê: “Jy moet verstaan, mens, dat die visioen te doen het met die eindtyd.”

18. Terwyl hy besig was om met my te praat, het ek flou op die grond neergeval. Hy het aan my gevat en my op my voete gehelp.

19. Hy sê toe vir my: “Ek lig jou in oor waarheen God se verontwaardiging gaan lei. Dit gaan oor die eindtyd.

20. Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van Medië en Persië.

21. Die bok is die koning van Griekeland. Die groot horing tussen sy oë is die eerste Griekse koning.

22. Die vier horings wat in sy plek gekom het toe dit afgebreek het, is vier Griekse ryke wat na vore sal kom. Hulle sal nie dieselfde mag as hy hê nie.

23. “Aan die einde van hulle regeertyd, wanneer hulle verkeerde dade ’n hoogtepunt bereik het, sal daar ’n hardvogtige koning na vore kom wat die kuns ken om te bedrieg.

24. Sonder dat hy self daarvoor werk, sal hy baie magtig word. Hy sal baie skade aanrig. Hy sal regkry wat hy beplan. Hy sal magtige leiers asook die heilige volk vernietig.

25. Deur sy sluheid en die bedrog wat hy pleeg, sal hy sukses behaal. Hy sal in sy eie oë belangrik wees. Hy sal stil-stil baie mense uitroei. Hy sal ook veg teen die Leier van al die leiers. Maar sonder dat ’n mens dit aan hom doen, sal hy vernietig word.

26. “Die gesig wat jy oor die 2 300 dae gesien het, is waar. Jy moet egter stilbly oor wat jy gesien het, want dit gaan nog baie lank neem voor dit gebeur.”

27. Ek, Daniël, was toe dae lank siek. Daarna het ek opgestaan en aangegaan in die koning se diens. Ek was ontsteld oor wat ek gesien het. Ek het dit glad nie verstaan nie.

Daniël 8