Daniël 7:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. In my visioen daardie nag het ek ook ’n vierde dier gesien. Hy was vreesaanjaend, geweldig groot en buitengewoon sterk. Hy het groot ystertande gehad waarmee hy alles verslind het. Wat daarna oor was, het hy onder sy pote vertrap. Hy was heeltemal anders as die ander diere voor hom en het tien horings gehad.

8. “Terwyl ek nog besig was om na die horings te kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom. Drie van die horings wat daar was, is uitgepluk om daarvoor plek te maak. Hierdie horinkie het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond wat baie aanmatigende dinge gesê het.

9. Terwyl ek staan en kyk, is daar trone neergesit. Hy wat ewig lewe,het daarop gaan sit. Sy klere was wit soos sneeu. Die hare op sy kop was soos suiwer wol. Sy troon het vuurvlamme gehad en wiele van brandende vuur.

10. ’n Rivier van vuurhet van Hom af weggevloei. Duisende der duisende het Hom gedien en tienduisende is tot sy diens. Die verhoor het toe begin en die boeke is oopgemaak.

11. Ek het bly kyk, want ek het gehoor hoe die klein horinkie onophoudelik bly spog. Ek het bly kyk totdat die vierde dier doodgemaak is. Sy liggaam is vernietig en hy is oorgegee om met vuur verbrand te word.

12. Die gesag van die ander drie diere is ook van hulle weggevat. Hulle kon nog langer lewe, maar net vir ’n bepaalde tyd.

13. In my visioen daardie nag het ek iemand in die wolke in die lug gesien kom, iemand wat soos ’n mens lyk. Hy het na Hom wat ewig lewe gegaan en is voor Hom gebring.

14. Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie.

Daniël 7