13. In my visioen daardie nag het ek iemand in die wolke in die lug gesien kom, iemand wat soos ’n mens lyk. Hy het na Hom wat ewig lewe gegaan en is voor Hom gebring.
14. Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie.
15. Ek, Daniël, was ontsteld oor alles wat ek gesien het. Die dinge wat ek gesien het, het my banggemaak.
16. Ek het toe nadergegaan na een van dié wat daar gestaan het. Ek het hom uitgevra oor al hierdie dinge. Hy het gesê hy sal dit vir my verduidelik:
17. “Die vier groot diere is vier konings wat oor die aarde regeer.
18. Die heilige mense van die Allerhoogste sal egter uiteindelik die koninkryk ontvang. Hulle sal regeer vir altyd en ewig.”
19. Ek wou toe duidelikheid hê oor die vierde dier wat soveel anders was as die res. Dit was buitengewoon skrikaanjaend en het met sy ystertande en bronskloue alles verslind en dit wat oorbly onder sy voete vertrap.
20. Ek wou ook weet van die tien horings op sy kop en die klein horinkie waarvoor drie ander horings plek moes maak. Hierdie horing het oë en ’n mond gehad wat gespog het, en het anders as die ander gelyk.
21. Ek het gesien hoe hierdie horing oorlog maak met die heilige mense en hulle oorweldig.
22. Toe het Hy wat ewig lewe gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Die tyd het toe gekom dat die heilige mense die koningskap oorneem.
23. Hy het vir my gesê: “Die vierde dier is ’n vierde mag wat oor die wêreld sal regeer en wat heeltemal anders is as al die ander ryke. Dit sal die hele aarde wegvreet en daarop trap en dit vermorsel.