Daniël 4:11-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die boom het groot en sterk geword. Dit was naderhand so hoog soos die wolke.Almal op die wêreld kon dit sien.

12. Dit het groen blare gehad en genoeg vrugte gedra dat almal daarvan kon eet. Die diere van die veld het in sy skaduwee gestaan. Die voëls van die lug het daarin nes gemaak. Almal wat leef, kon van sy vrugte lewe.

13. “‘Terwyl ek op my bed lê en droom, het daar ’n bo-aardse weseuit die hemel uitgekom.

14. Hy het hardop uitgeroep: Kap die boom af! Breek sy takke af! Stroop sy blare af! Skud sy vrugte af! Jaag die diere weg van sy skaduwee! Jaag die voëls uit sy takke!

15. Laat staan net sy stomp en sy wortelstussen die gras in die grondmet ’n band van yster en koper om.Die dou uit die lug moet hom natmaak. Hy moet saam met die diere in die oop veld bly.

16. Laat sy geaardheid word soos dié van ’n dier, en laat dit vir sewe tydperke aanhou.

17. “‘Dit was die besluit van die bo-aardse wesens. Dit was wat die heiliges geëis het sodat almal wat leef, kan weet dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van mense. Hy gee mag aan mense soos Hy wil. Hy kan selfs die geringste mens aanstel.

18. “‘Dit was die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Beltsasar, jy moet nou vir my sê wat dit beteken. Nie een van die ander raadgewers in my koninkryk kan dit vir my verklaar nie. Jy kan dit doen, want die gees van die heilige gode is in jou.’”

19. “Daniël, ook genoem Beltsasar, was vir ’n ruk lank verbysterd. Hy was ontsteld oor wat in sy gedagtes opgekom het. Die koning sê toe: ‘Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou omkrap nie.’ “Beltsasar het geantwoord: ‘U Majesteit, ek wens die droom en sy betekenis het eerder met u vyande gebeur.

20. Die boom wat u gesien groei en grootword het sodat almal oor die hele wêreld dit kon sien,

21. met sy groen blaredak en sy baie vrugte waarvan almal kon eet, sy skaduwee waaronder al die diere van die veld kon skuil en sy takke waarin die voëls van die lug kon nes maak,

22. is u self. U Majesteit, u het groot en sterk geword. U aansien het hemelhoog geword. U regeer tot by die uithoeke van die aarde.

23. “‘U Majesteit, u het ’n heilige bo-aardse wese gesien wat afkom uit die hemel. Hy het gesê: Kap die boom af! Vernietig dit! Laat staan net sy stam en wortels, met ’n band van yster en koper om, in die grond tussen die gras van die veld! Laat die dou uit die lug op hom kom en laat hy by die diere van die veld bly totdat sewe tydperke verbygegaan het.

24. “‘U Majesteit, die droom beteken dat God die Allerhoogste oor u ’n besluit geneem het.

25. U sal van die mense af weggejaag word en tussen die wilde diere van die veld moet gaan bly. U sal gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug sal op u val. Sewe tydperke sal vir u verbygaan totdat u erken dat dit God die Allerhoogste is wat oor die koninkryke van mense regeer en dit gee vir wie Hy wil.

26. Dat hulle gesê het die boomstomp en sy wortels moet in die grond oorbly, beteken dat u u koningskap weer sal terugkry sodra u erken het dat dit die hemele is wat eintlik regeer.

27. “‘O Koning, luister tog na my raad. Breek met u sondes en doen wat reg is. Los u onregverdigheid en sorg vir dié wat behoeftig is. Miskien hou u voorspoed dan nog ’n bietjie langer.’

28. “Dit het presies net so met die koning gegaan.

29. Twaalf maande later het hy op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop.

Daniël 4