7. Die oomblik toe die mense uit die verskillende volke, nasies en tale die trompet, fluit, siter, harp en die ander musiekinstrumente hoor, het hulle op hulle knieë gegaan en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnesar laat oprig het.
8. Van die wyse manne het toe na die koning gegaan en van die Judeërs aangekla.
9. Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning lank lewe!
10. U Majesteit het mos ’n bevel uitgereik dat elkeen wat die geluid van die trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, dadelik moet neerval en die goue beeld aanbid.
11. Dié wat dit nie doen nie, sal in die vuuroond gegooi word.
12. Maar daar is Joodse mans wat nie doen wat die koning gelas het nie. Dit is Sadrag, Mesag en Abednego wat u oor die administrasie van die provinsie van Babel aangestel het. Hulle gee nie eer aan u gode nie en hulle aanbid nie die goue beeld wat u opgerig het nie.”
13. Nebukadnesar was woedend en hy het beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego na hom toe gebring moet word. Toe hulle voor die koning kom,
14. het Nebukadnesar vir hulle gevra: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle nie aan my gode eer wil bewys nie en nie die goue beeld wat ek opgerig het, wil aanbid nie?
15. Kyk, ek gee julle nog een keer kans. Luister wanneer julle die musiekinstrumente hoor speel en aanbid die beeld wat ek gemaak het. As julle dit nie aanbid nie, sal julle onmiddellik in die vlammende oond gegooi word. Watter god sal julle dán uit my hand kan red?”
16. Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons ag dit nie nodig om u hierop te antwoord nie.
17. Die God wat ons aanbid, kán ons uit die vuur red. Hy sal ons uit u mag bevry, U Majesteit.
18. En selfs al red Hy ons nie, U Majesteit, sal ons nie u gode vereer nie. Ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.”
19. Die koning was so kwaad vir Sadrag, Mesag en Abednego dat sy gesig vertrek het. Hy het opdrag gegee dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak moet word.
20. Hy het sterk mans uit sy leër aangesê om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die oond met sy skroeiende vlamme te gooi.