Daniël 3:15-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Kyk, ek gee julle nog een keer kans. Luister wanneer julle die musiekinstrumente hoor speel en aanbid die beeld wat ek gemaak het. As julle dit nie aanbid nie, sal julle onmiddellik in die vlammende oond gegooi word. Watter god sal julle dán uit my hand kan red?”

16. Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons ag dit nie nodig om u hierop te antwoord nie.

17. Die God wat ons aanbid, kán ons uit die vuur red. Hy sal ons uit u mag bevry, U Majesteit.

18. En selfs al red Hy ons nie, U Majesteit, sal ons nie u gode vereer nie. Ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.”

19. Die koning was so kwaad vir Sadrag, Mesag en Abednego dat sy gesig vertrek het. Hy het opdrag gegee dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak moet word.

20. Hy het sterk mans uit sy leër aangesê om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die oond met sy skroeiende vlamme te gooi.

21. Hulle het toe die drie mans vasgebind en hulle in die brandende oond gegooi met hulle klere en al.

22. Omdat die koning beveel het dat die vuur so warm gemaak moet word, het die vlamme uit die oond die mense doodgebrand wat Sadrag, Mesag en Abednego in die oond gegooi het.

23. Die drie mans, Sadrag, Mesag en Abednego, het so vasgebind in die brandende oond beland.

24. Koning Nebukadnesar was egter verstom. Hy het opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?” “Ja, beslis, U Majesteit,” het hulle vir hom gesê.

25. Hy sê toe vir hulle: “Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ’n bo-aardse wese.”

26. Nebukadnesar het so naby hy kan aan die deur van die vlammende oond gaan staan. Hy het geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van God die Allerhoogste, kom uit en kom hier na my toe!” Sadrag, Mesag en Abednego het toe uit die vlammende oond gekom.

Daniël 3