Daniël 11:30-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. Oorlogskepe uit die westelike seegebiede sal teen hom uitvaar en hy sal bang word en omdraai huis toe. Hy sal sy woede uithaal op die mense van God se verbond. Hy sal hulle beloon wat hulle rug op God se verbond gedraai het.

31. Sy leër sal kom en die vesting van die tempel besoedel. Hulle sal die daaglikse offer beëindig. Hulle sal die gruwelike ding wat alles verwoes by die tempel oprig.

32. Hy sal dié prys wat die verbond met God verwerp het. Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is.

33. “Hulle wat die volk onderrig, sal baie mense help om te verstaan. Vir dae lank sal van hulle doodgemaak word met die swaard en met vuur, gevange geneem en beroof word.

34. Terwyl dit gebeur, sal daar wel beperkte hulp vir hulle wees. Baie wat by hulle aansluit, sal dit egter onder valse voorwendsels doen.

35. “Sommige van hulle wat onderrig gee, sal struikel en vervolg word sodat hulle gelouter, gesuiwer en gereinig kan word vir die eindtyd. Die tyd waarop besluit is, het nog voorgelê.

36. “Die koning sal doen net wat hy wil. Hy sal homself aanstel en dink dat hy belangriker is as al die gode. Selfs teen die God van die gode sal hy verwaande dinge kwytraak. Hy sal sukses behaal totdat die tydstip van God se verontwaardiging tot ’n einde kom soos reeds besluit is.

Daniël 11