2 Samuel 16:10-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. “Nee!” sê die koning. “Dit het niks met my of julle te doen nie, seuns van Seruja. Hy vloek so omdat die Here vir hom gesê het ‘Vloek Dawid’. Laat hy dit maar doen. Wie kan dan vra: ‘Hoekom doen jy dit?’”

11. Dawid sê verder vir Abisai en die amptenare: “My eie seun probeer my doodmaak. Hoeveel te meer hierdie Benjaminiet? Los hom uit en laat hom vloek, want die Here het vir hom gesê om dit te doen.

12. Dalk sal die Here my swaarkry raaksien en my seën as gevolg van hierdie vervloekings.”

13. Dawid en sy mense het verder getrek. Simeï het op die oorkantse heuwel gelyk met hulle geloop en gedurig bly vloek, klippe gegooi en stof opgeskop.

14. Die koning en sy geselskap het moeg by hulle bestemming aangekom en daar gerus.

15. Intussen het Absalom en die hele leër van Israel by Jerusalem aangekom. Agitofel was saam met hom.

16. Toe Dawid se vriend Gusai die Erekiet by Absalom aankom, sê hy vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”

17. “Is jy dan nie aan jou vriend getrou nie?” vra Absalom. “Hoekom het jy nie saam met hom gegaan nie?”

2 Samuel 16